Perlemoene help só

Die Overstrand-vereniging vir Mense met Gestremdhede beskerm en bevorder die belange van mense met gestremdhede.

By hul perseel in Hawston lei hulle ook mense met gestremdhede in verskeie handwerkvaardighede op.

Die perlemoenskulpprojek, met die fokus op inkomstegenerering, is een van hul interessante vaardigheidsontwikkelingsprojekte.

Desiree Gelderblom, ’n maatskaplike werker by die vereniging, sê: “Die Abagold-ontwikkelingstrust se korporatiewe sosiale-verantwoordelikheid-afdeling het ses jaar gelede met ons hande gevat. Hulle wou weet wat gedoen kan word met die perlemoenskulpe van hul perlemoenplaas wat daar ophoop. Hulle het vir ons kunstenaars gestuur sodat ons vorendag kon kom met idees oor produkte wat ons met die skulpe kan maak.”

Die unieke Kersbome word van Oktober tot Desember verkoop, maar ’n behoefte om kleiner produkte vir die toeristemark te ontwikkel, het ontstaan. Van die produkte word by Abagold se winkel by die nuwe hawe in Hermanus verkoop. Juweliersware is ’n nuwe konsep waaraan tans gewerk word. Abagold het Vivienne Mitchley van Creative Space aangewys om hulp en opleiding vir hierdie nuwe konsep te verskaf. “Ná opleiding kan ons presies dupliseer wat ons geleer het,” sê Gelderblom.

Gelderblom sê hulle maak ook huisnommers, planthouers, spieëls, fotorame en hangkandelare wat met perlemoenskulpe versier is.

Hulle maak op bestelling ook pragtige muurhorlosies van ou satellietskottels. Mense kan hul ou satellietskottels bring om dit in ’n horlosie te laat omskep. Die skottel kan ook met perlemoen-mosaïekstukkies uitgevoer word om ’n muurornament te maak.

“Ons werk eintlik met die hele familie van die gestremde om hulp en opleiding te verskaf.

Soms kan ’n gestremde nie kom werk nie, maar dan kan een van die familielede wat opgelei is in hul plek kom werk. Ons wil graag ook meer mense met gestremdhede en van hul direkte familielede as crafters oplei,” sê Gelderblom.

Gelderblom sê die departement van sport, kuns en kultuur stel geld aan die vereniging beskikbaar vir opleiding en bemarking.. Vir meer inligting oor produkte, of om ’n bestelling te plaas, kontak die vereniging by 028 315 1025 of besoek hulle by Willsbystraat 1141, Hawston.

Source: Netwerk24

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *