Nampo-skoleprogram help jong landbouers
Die toekoms van ‘n volhoubare landbousektor is afhanklik van nuwe inligting, tegnologiese vooruitgang en ‘n generasie landbouers en jeugdiges met toepaslike vaardighede en kwalifikasies om by die groot verskeidenheid van beroepe wat aan landbou verwant is betrokke te raak.
NAMPO Kaap skep geleenthede vir die jeug om nie net die toekoms van landbou raak te sien nie, maar om ook aktief betrokke te raak deur middel van die Overberg-streekjeugskou en die NAMPO Kaap-landbouskoleprogram en sodoende ‘n liefde vir landbou te kweek.
Overberg Streeksjeugskou-kompetisie
Die Overberg-streeksjeugskoukompetisie vind plaas op Saterdag, 14 September 2024. Deelnemers verdien punte by streekskoue, soos die wat tydens NAMPO Kaap plaasvind om vir die Wes-Kaapse jeugskoukampioenskappe te kwalifiseer. Tydens die WP-kampioenskappe word ‘n span gekies om aan die nasionale jeugskou-kampioenskappe deel te neem.
Seuns en dogters tot die ouderdom van 17 kan aan die jeugskoukompetisies deelneem. Die drie ouderdomskategorieë is: junior-juniors (ouderdom 5-10), juniors (ouderdom 11-14) en seniors (ouderdom 15-17). Die 15 afdelings wat aangebied word is: melk- en vleisbeeste, wol- en vleisskape, Angora-, vleis- en melkbokke, pluimvee, perde, duiwe, konyne, jong afslaers, kulinêre kuns, suiwelbereiding en ‘n nuwe afdeling, fotografie.
In die fotografie-afdeling kry deelnemers opdrag om aksie-, portret-, snaakse- of op die ingewing foto’s te neem. Al die foto’s word tydens die skou geneem en beoordeling van die foto’s vind tydens die skou plaas.
‘n Kompetisie soos hierdie sou nie moontlik wees sonder die ondersteuning van borge nie. “Ons is dankbaar vir die borgskappe van Neptun, BKB, Hollard, Wes-Kaapse departement van landbou, Voermol, ARDS, Agri Expo en Varsmark Bredasdorp vir hul ondersteuning”, sê Madeline Kriel, koӧrdineerder van die Overberg-streeksjeugskou.
Volgens Henk Aggenbach, voorsitter van die Bredasdorppark-direksie, is alle moontlike maatreëls in plek om die verspreiding van bek- en klouseer te voorkom tydens NAMPO Kaap. “Daar is volledige protokolle in plek en ‘n span, onder leiding van die staatsveearts, sal alle diere by aankoms ondersoek en geen diere sal op die terrein toegelaat word sonder die nodige dokumentasie vir die vervoer van lewende hawe nie.”
Die sluitingsdatum vir inskrywings is 31 Augustus 2024. Om in te skryf kontak Madeline Kriel by madelinekriel894@gmail.com of 071 280 0239.
NAMPO-skoleprogram
Die aantal skole in die Wes-Kaap wat ‘n kurrikulum aanbied wat minstens een landbouvak insluit, het die afgelope vyf jaar van 31 tot 55 toegeneem. Volgens dr Ivan Meyer, minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme in die Wes-Kaap, is die landbousektor ‘n ster-presteerder in die Wes-Kaapse ekonomie.
“Daarom maak dit vir ons jeug sin om hulself toe te rus met die vaardighede wat nodig is om deel te neem aan ‘n goed presterende sektor wat ‘n belangrike rol speel om voedselsekerheid te verseker,”
Alfreda Mars, koӧrdineerder van die skoleprogram, sê 400 leerders van 30 skole word vanjaar uitgenooi om die NAMPO Kaap-skoleprogram by te woon.
“Tydens die program sal leerders vertikale boerderysisteme, groenteverbouing, agriprossesering, diereproduksie en heuningproduksie asook beroepsgeleenthede in landbou eerstehands ervaar. Die doel van die skoleprogram is om dit wat leerders in die klas leer, op ‘n praktiese wyse by NAMPO Kaap toe te lig.”
Mars sê dat hulle die hulp van die Wes-Kaap departement van onderwys, asook die hoof-borgskap van die Wes-Kaapse department van landbou hoog op die prys stel en dat dit grootliks bydra om landbou as ‘n moontlike beroep vir jong mense meer aantreklik te maak.
Sien jou daar:
Registrasie vind vanaf 8:00 by Hek C, BKB-lewendehawesentrum plaas en inskrywings moet teen 31 Augustus ingedien word. Vir meer inligting kontak Madeline by madelinekriel894@gmail.com of 071 280 0239.
Toeskouers is welkom om die gees van die jeugskou en wat die kompetisie behels, op 14 September 2024 vanaf 10:00 te ervaar. Die diere sal by die BKB-lewendehawesentrum vertoon word, die kulinêre kuns en suiwelbereiding sal in die Distinctive Choice-tent voor die BKB-gebou plaasvind en die pluimvee, duiwe- en konyneskou in die Wes-Kaapse departement van landbou se tent.
Toegangskaartjies is aanlyn beskikbaar by www.ticketpros.co.za, met afslag op toegangsfooie vir aanlynaankope, teen R80 vir volwassenes en R50 vir skoolgaande kinders. Kaartjies by die hekke sal te koop wees teen R100 vir volwassenes en R50 vir kinders. Voorskoolse-kinders kom gratis in. NAMPO Kaap duur van Woensdag, 11 tot Vrydag, 13 September van 08:00 tot 17:00 en Saterdag, 14 September van 08:00 – 14:00.