Vyftiende Klein Karoo Klassique om die draai

Bekende pianis vanjaar gasheer

Kom, die winter is nog hier en die Klein Karoo op sy mooiste. Spiring in jou motor, vat jou gesin en ry Oudtshoorn toe vir vanjaar se Klein Karoo Klassique.

Van ’n spesiaal saamgestelde kamerorkes en immergewilde koor, tot kwartette, trio’s, duette en hope ander musikale verrassings.

Dít alles en meer wag op liefhebbers van klassieke musiek, kuns, kos en wyn by die 15de Klein Karoo Klassique, wat van Vrydag 9 tot Sondag 11 Augustus 2024 op Oudtshoorn aangebied word.

Hierdie winterfees word aangebied deur die KKNK, moontlik gemaak deur die Rupert-Musiekstigting en die ATKV, met ondersteuning van Le Lude en die Oudtshoorn Munisipaliteit.

Steinway-pianis Charl du Plessis is vanjaar die gasheer by Klassique en tree na afloop van uitgesoekte uitvoerings in gesprek met kunstenaars. Dit bied nie net die perfekte geleentheid om meer oor die musiek wat uitgevoer word te leer nie, maar ook om in gesprek te tree met verskeie van Suid-Afrika se voorste klassieke musici.

Vrydag (9 Augustus) 09:30 begin die musiekprogram met Music from the Silk Road for Cello and Piano. Berthine van Schoor (tjello) en Megan-Geoffrey Prins (klavier) neem die gehoor op ’n eksotiese en verbeeldingryke reis deur verskeie lande van die antieke Sjinese syroete. ’n Gratis musiekgesprek met die kunstenaars word daarna aangebied.

riumph of Sound met – Lynelle Kenned is ‘n moet-sien vertoning..

Ensemble Masana – oftewel Mareli Stolp (klavier), Rikus Coetsee (saksofoon) en Handri Loots (fluit) – bied Vrydag 13:00 ’n uiteenlopende program van musiek deur internasionale en Suid-Afrikaanse komponiste aan, wat die wye verskeidenheid moontlikhede vir al drie instrumente in duo- en trio-formaat tentoonstel, gevolg deur ’n gratis musiekgesprek met die kunstenaars.

Magdalene Minnaar (viool), Rosamund Ender (tjello) en Esthea Kruger (klavier) bied Vrydag 15:30 die eerste Little Maestros: Classical Concerts for Families aan. Hierdie reeks gratis konserte, spesifiek gemik op jonger luisteraars, bied ’n ontspanne omgewing waar klein oortjies leer deur Mozart, Bach en ander bekende klassieke musiek. Dis ’n interaktiewe uitvoering en sluit hope interaksie en verduidelikings en beweging saam met die musiek in.

Minnaar en Kruger, twee van Suid-Afrika se voorste klassieke musici, sluit om 19:00 Vrydag se musiekprogram af met The Prayer. Op die program is ’n uitsonderlike versameling met onder andere Ravel se “Kaddisch” en Schubert se “Ave Maria”, asook werke van onder andere Bach, Fauré, Messiaen en Britten.

Die Odeion-strykkwartet – Samantha Durrant (viool), Sharon de Kock (viool), Jeanne Louise Moolman (altviool) en Anmari van der Westhuizen (tjello) – neem Saterdag (10 Augustus) 09:30 die gehoor op ’n musikale reis wat verskeie dimensies van demokrasie, kulturele samelewing en musikale erfenis ondersoek. Diverse musiekwerke soos “Komeng” van Mokale Koapeng, “Song of the African Spirits” van Stefans Grové en “String Quartet op. 76 no. 3”, algemeen bekend as die “Keiser-kwartet” deur Joseph Haydn word ingesluit, gevolg deur ’n gratis musiekgesprek met die kunstenaars.

In Sometimes it takes two Saterdag 13:00 deel vier pianiste die verhoog. Nina Schumann, Esthea Kruger, Megan-Geoffrey Prins en Du Plessis laat 40 vingers op twee vleuelklaviere los vir ’n ongelooflike samewerking van klassieke bemeestering. Die uitvoering word gevolg deur ’n gratis musiekgesprek met die kunstenaars.

Die tweede Little Maestros: Classical Concerts for Families word Saterdag 15:30 in die Banketsaal aangebied.

Little Maestros se Magdalene Minnaar

Saterdag 16:30 skuif verrigtinge na die NG Kerk Park vir Triumph of Sound, met Lynelle Kenned (sopraan), Stefan Lombard (pyporrel) en Paul Loeb van Zuilenburg (trompet). Hulle voer ’n program uit wat oor eeue strek. Musiek van Bach, Vivaldi, Handel, Mozart en Puccini word ingesluit. Dis ’n bekoorlike verkenning van die krag en nuanse van hierdie unieke ensemble, gevolg deur ’n gratis musiekgesprek met die kunstenaars.

Die Klein Karoo Klassique-galakonsert sluit om 19:00 Saterdag se musiekprogram af. Op die verhoog is die Kaapstad Feeskamerorkes, spesiaal byeengebring vir Klassique, die uitstaande violis, Samson Diamond en bekende musikant en dirigent, Richard Cock. Mozart se pragtige “Vioolkonsert No. 4”, ligte klassieke gunstelinge deur Johannes Brahms, Johann Strauss, Fritz Kreisler, ’n huldeblyk aan George Gershwin ter viering van 100 jaar sedert hy “Rhapsody in Blue” geskryf het en Ludwig van Beethoven wat sy “Simfonie nr. 9” 200 jaar gelede geskryf het, word onder andere gehoor.

Sondag (11 Augustus) 09:30 is die Kaapstad Baroktrio – Annien Shaw (barokviool), Ralitza Macheva (barokviool) en Rosamund Ender (viola da gamba) – op die verhoog vir Narratives. Hulle verken verskeie metodes van instrumentele vertelling uit die barokera. Musiek van Corelli, Biber, Telemann en Vivaldi word uitgevoer, asook innoverende nuwe komposisie vir barokinstrumente deur Antoni Schonken. Die uitvoering word gevolg deur ’n gratis musiekgesprek met kunstenaars. Macheva keer terug na Oudtshoorn, nadat sy (en Erik Dippenaar) vroeër vanjaar die kykNET Fiësta vir beste prestasie in klassieke musiek ontvang het vir Variations, wat verlede jaar by Klassique te sien was.

Om 13:00 Sondag span die immergewilde Suid-Kaap Kinderkoor, onder leiding van Jan-Erik Swart, vir die eerste keer kragte saam met gaskunstenaar, Joshua na die Reën vir Lig op die horison. Gehore by Klassique is welbekend met die Suid-Kaap Kinderkoor, wat reeds in uitverkoopte uitvoerings by dié fees te sien was. Joshua na die Reën is vir die eerste keer by Klassique en hierdie optrede beloof om ’n hoogtepunt op die feesprogram te wees.

Die laaste geleentheid vir die jongspan om Little Maestros: Classical Concerts for Families te geniet, is Sondag 14:30 in die Banketsaal.

Sondagmiddag om 16:00 eindig die musiekprogram wanneer Peter Martens (tjello) en die Charl du Plessis-trio – Du Plessis (klavier), Werner Spies (kontrabas) en Peter Auret (tromme) – die verhoog deel vir Bach, Brahms & Bolling. Claude Bolling se “Suite vir tjello en jazz-trio” kombineer style soos swing en blues. Brahms se “Tjello sonate in E-mineur” word in sy oorspronklike formaat gehoor, asook Bach se solo “Suite vir tjello no. 2”, met ’n twist. Hierdie werk word getransformeer deur die Charl du Plessis-trio met die toevoeging van ’n jazz-klanklandskap.

’n Beperkte aantal Klassique-pakkette is beskikbaar, wat aan feesgangers die geleentheid bied om al tien uitvoerings teen ’n besparing van 25% te sien.

Die KKNK se veelbekroonde Karoo Kaarte-span bied vir die eerste keer ’n rondleiding oor dié grensverskuiwende multidissiplinêre kunsteprogram, wat sedert 2021 op Oudtshoorn lewe kry, tydens Klassique aan. Kunswerke uit hul nuutste uitstalling, Argief, wat in 2024 by die KKNK geopen het, word ingesluit, asook meer oor die Karoo Kaarte-app.

Roydin Engelbrecht van RJ Tours bied elke dag 08:00 ’n historiese wandeltoer aan, wat besoek aflê by belangrike argitektoniese geboue op Oudtshoorn. Een hiervan is die N.G. Moederkerk waar bouwerk in 1860 begin het en in 1879 voltooi is.

De Rustica Olive Estate gee in Olyf tot olyfolie aan feesgangers ’n geleentheid om hulle wêreldbekroonde olyfolie te proe en ’n toer van dié olyflandgoed by te woon.

Klein Karoo Klassique se kern is die Oudtshoorn Burgersentrum en Banketsaal, waar feesgangers en kunstenaars gesellig kan kuier. Heerlike eetgoed word deur Nostalgie Restaurant hier bedien, terwyl wyn, koffie en ander lekkernye ook beskikbaar is. Boeke, klassieke musiek CD’s en DVD’s is hier te koop.

Klassique se verblyfborge is Aloe Manor, De Zeekoe, Kleinplaas Holiday Resort, Queen’s Hotel by BON Hotels, Ravenscliff Manor, Rosenhof Country House en Turnberry Boutique Hotel. Ander verblyfopsies is aanlyn beskikbaar by die fees se verblyfvennoot, LekkeSlaap.

Kaartjies is beskikbaar by Webtickets, Pick n Pay of die KKNK-kantoor. Beskikbare kaartjies word ook voor uitvoerings by die deur verkoop. Vir meer inligting, besoek klassique.co.za of kontak die KKNK-kantoor per e-pos by info@kunste.org.za, skakel 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.

PKaroo Kaarte, die KKNK se grensverskuiwende multidissiplinêre kunsteprogram, stal werk uit hul nuutste uitstalling, Argief, by Klassique uit.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *