Anton maak vir Gansbaai lekker

Liedjieboer leef jeuglik op Gansbaai

Na ’n gewapende roof hom in 2007 van sy vreugde en die mooi van die Hennopsriviervallei naby Hartebeespoortdam beroof het, het Anton besluit dit is tyd om te ­‘… vat jou goed en trek Ferreira’. Hy het koers gekies Gansbaai toe en sê hy is baie gelukkig in die kusdorpie. Gansbaai se mense is vir hom, lekker en sonder fieterjasies. “Hier is net twee soorte mense, vriendelik of nors,” vertel Anton.

Vriende van die Goosens het gereeld vakansie gehou in Gansbaai en Anton vertel laggend dat hy ’n fiksasie met Gansbaai ontwikkel het.

Ons gesels uit twee uithoeke van die Kaap, Anton tuis in Gansbaai en ek die amper-stad, Brackenfell. Dit is maklik om met Anton oor Afrikaans en anglisismes, politiek en gedigte te gesels. Musiek bly op die voorgrond, veral met die oog op Sirkels wat juis in Junie bekend gestel word.

“Nie vrygestel nie”, maan Anton, “die album was nog nooit gevangene gehou nie!”

Afrikaans is pret

Anton is passievol oor Afrikaans. Hy dink, droom, sing, skryf, slaap en … soen in Afrikaans. Soen in Afrikaans? Ja, dit is beslis moontlik en wanneer sy vrou bel en hy haar Bokkie noem, kan jy maar weet, vir dié man is Afrikaans ook sy liefdestaal.  Alhoewel hy erken dat hy ook soms mengels praat, is Afrikaans sy hartstaal en dat Afrikaans sale vol maak. Afrikaans dans op die tong,” glo hy.

Anton onthou ’n dansplek in Gansbaai waar sy ou vriend, Manie Groenewald en sy Baardskeerdersbosorkes, ’n groot gevolg van jongmense gehad het. Anton skryf dit toe daaraan dat hulle musiek oorspronklik was.

Sukses

Anton se heel eerste album, Boy van die suburbs in 1979 het die Afrikaanse rocker Anton Goosen aan ons bekend gestel en hy het gou gewys dat hy hier is om te bly. Anton is baie beskeie oor sy sukses in die bedryf en glo dat luck ook baie daarmee te doen het. Hy sê dit was nie so beplan nie en motiveer enige kunstenaar om net aan te hou. “Wie sou kon dink ek gaan 78-jaar oud word in rock en roll? Keep on keeping on. Dinge gebeur op die regty tyd en soms is die luck of the draw net aan jou kant.”

Wie kan Anton se treffer Jantjie ­vergeet? Dit was juis met Jantjie wat Anton ’n liefde vir Afrikaans by Engelse skoolkinders gekweek het.

Sy heel eerste onderhoud by Beeld was saam met Sonja Herholdt, toevallig was dit ook haar heel eerste onderhoud. Toe sy hoor dat Anton ook skryf,  het sy en haar man hom besoek en sy het deur sy werk gegaan. Sy wou oplsuit vir Jantjie as liedjie opneem. Dit is vir Anton ’n goeie voorbeeld van luck en hoe die regte dinge op die regte tyd kom.

Sirkels bevat ook twee van Antjie Krog se gedigte en Anton vertel dat hulle albei van Kroonstad af kom. Die twee se ma’s was beste vriendinne, maar Anton en Antjie het mekaar onlangs vir die eerste keer ontmoet. Anton is gevra om twee van Antjie se gedigte op te neem vir haar 70-ste verjaarsdag. “Kroonstad het iets in die water,” spot hy.

Naartjies, nartjies ,liefde en hoop:

Wat maak Anton kwaad? “Wanneer ek twee advertensieborde langs die pad sien waar nartjie verkeerd gespel is!”

Dit bring ons gesprek weer terug na Afrikaans as taal en wat deesdae as aanvaarbaar beskou word. Daar is selfs anglisismes wat al hulle plek gebaan na die HAT, vertel Anton verontwaardig.

En wat maak hom gelukkig? “Liefde. Liefde is meer as ‘n ses letter woord. Liefde gee hoop in ons harte,” is sy filosofie.

Terwyl ons op die onderwerp van hoop is, dwaal ons af na 1994 toe Suid-Afrikaners hoopvol was met die koms van demokrasie en Madiba aan die stuur, maar 34-jaar later teleurgesteld gelaat is. Die koms van die Houtstokfees net daarna was ‘n partytjie vir die nuwe Suid-Afrika, vertel Anton.

Ons stem wel saam dat daar altyd lig is en Suid-Afrikaners, maar optimisties kan bly oor ons land se toekoms.

“Ek is happy in my vel en met wie ek is.”

Eerlikheid

Vir Anton is dit belangrik om altyd eerlik te wees. Hy vertel wel dat sy eerlikheid hom al in die moeilikheid gebring het maar, vir Anton om getrou te bly aan wie hy is, die mens wat ons ken, kan hy nie anders nie.

“Dit help nie om spyt te wees oor jou woorde nie. Ek kan nie my woorde sluk nie, dan gaan ek verstik! Dit is uit, gedaan. Wat gister gebeur het is gister, more mag dalk nie kom nie en dan is daar vandag,”meen hy.

Anton Goosen vier ‘n merkwaardige 45-jaar in die musiekbedryf. Hy toon geen tekens van ‘n traer pas nie en bly positief. Om met Anton te gesels is ‘n inspirasie en ‘n voorreg. Anton se passie vir sy land, Afrikaans, musiek en die lewe is stof tot nadenke en laat jou maklik met ‘n nuutgevonde liefde vir Suid-Afrika, ons kunstenaars en ons taal. “Ek is happy in my vel en met wie ek is.”

Sirkels

Anton se nuwe album kom in perfekte tyd vir die 99-jaar viering van Afrikaans as amptelike taal. Sirkels die album kom na twee jaar se skaaf en navorsing.

Sirkels beloof ’n heerlike diversiteit van twee Antjie Krog-gedigte wat getoonset is en: “… hier en daar verander …” is om dit geskik te maak vir opname. Daar is ’n protesliedjie, ’n duet en selfs ’n talkie met jazz-agtergrond. Anton het hierdie slim gedig van DJ Opperman as ’n nagedagte opgeneem en spot dat hy gereeld sulke late thoughts op die high way kry. “Daar is ook ’n Engelse duet met ‘The one that sings’, Zolane Mahola van Freshlyground.”

Die motivering vir Sirkels kom uit die elke dag lewe en dinge uit ander oë sien gesels Anton. “Hoe meer dinge verander hoe meer bly dit dieselfde,” glo hy.

Sirkels sal Anton se 17-de album wees en word op 28 Junie bekend gestel.

 

Annette Havenga ©

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *